Boodskap in 'n bottel

'n Gedig van verlange en hoop op weersiens.


Boodskap in 'n bottel

Luister die kunslied

Gedig
Johann Jordaan
Musikale verwerking
Gideon Jordaan
Kunswerk
Cayleigh Peo

Gedig

Jou naam het ek vanaand in die maan geskryf
en vanoggend met ’n stokkie in die sand;
gister in wolke wat suidwaarts seil
bo die oggendson se brand

Geskryf op die klank van ’n voël se roep
en op ’n sonstraal se lint
daarna in die soelte wat hang op die stoep
en toe op die lyf van die wind – 

Dié boodskap in wolke bo in die lug
dobber op luggolwe aan
om langs watter strand of ararat
of dalk bo jou huis te gaan staan?

Dan roep die wind en hy roep jou weer
en stuur dan sy tortelduif
en ek hoop dat hy terugkom – 
blad in die bek,
of ’n woord of ’n lag of ’n wuif.

Stuur hom terug, my lief, stuur hom terug, 
stuur hom terug!
Dis al wat ek het dan van jou:
’n naam in die boombas, ’n droom in die lug
en ’n blaartjie om vas te kan hou.

Notas

Geen Notas