Gemis

‘n Trek-arbeider wat sy vrou groet op die Kaapstadse Internasionale Lughawe


Gemis

Luister die kunslied

Gedig
Johann Jordaan
Musikale verwerking
Gideon Jordaan
Kunswerk
Gideon en KI

Gedig

Weer wil ek vashou en nog huiwer
weer wil ek wiegstaan in jou soet
en weer 'n oomblik-ewig skuil
weer wegkruip-weier om te groet.

Want gaan is beter as verlang
en wegstap is steeds naby jou
en laaste aanraak beter steeds
as duisend nagte se onthou.

Weer wil ek weer myself verloor
en weer my uit jou uit wegskeur
selfs dít is nader as die rou
van wonder hoe en wanneer weer

Die ligte geur wat huiwer nog
die laaste sagtheid van jou wang
die terugkyk oor my skouer weer
die afskeid wat oor alles hang

is beter steeds as wegwees, weg
van alles wat jou aan my bind
en beter as die krap en soek
en kyk of ek jou hier kan vind.

Notas

As hy reeds weg is, verlang hy – ironies genoeg – na die afskeid, want “wegstap is steeds naby jou”.